Kalfiefees word mondig.

Kalfiefees 2021
Vlindervrou
June 3, 2019
Kalfiefees 2021
BEET
June 3, 2019

Kalfiefees word mondig.

MC_Botha

Die stigtingsvergadering van die Hermanus Times Kalfiefees is op 25 Januarie 2001 in die kantoor van die koerant se bestuurder, Jean le Roux, gehou. Twee bekende figure in die dramawêreld was die dryfvere agter die fees: Cas van Rensburg en Niel le Roux – hulle sou weldra die fees deur die eerste paar wankelrige jare lei, terwyl die Hermanus Times onderneem het om die hoofborg te wees. Die naam Kalfiefees is Niel se skepping, deels diplomaties uitgedink om nie die organiseerders van die Walvisfees te laat voel ons probeer hul kollig steel nie. Die Kalfiefeeslogo – ’n klein walvissie met ’n fopspeen in die bek – is deur die koerant se grafiese ontwerper, Michael Muller, geskep en word vandag nog gebruik.

Die fees sou elke jaar oor die langnaweek tydens Vrouedag op 9 Augustus gehou word, met die historiese De Wetsaal in Roosstraat op Onrusrivier as middelpunt. Niemand het aanvanklik besef Augustus is eintlik nog winter nie, met die gevolg dat die grootste “drama” van die eerste paar Kalfiefeeste storm noordwesters was wat die markies-feestent langs die De Wetsaal omgewaai het, met gepaardgaande kragonderbrekings. Gelukkig kon gesoute spelers soos Lizz Meiring, Sandra Prinsloo, André Stolz en Paul Luckhoff daarvoor sorg dat kom wat wil, “the show must go on”. Die gehoor het knus ingeryg bly sit op honderde opgestapelde leë bierkiste wat die ganse ouditorium van die saal uitmaak en net betyds vir die fees se gala-opening die vorige aand klaar gebou is.

Drama van ’n ander aard tydens daardie eerste fees was Jacques Batista se Have You Heard The Seagull Scream? waarin hy nakend oor die verhoog dans. Op grond van die programaankondiging het 15 plaaslike kerkleiers in ’n sterk bewoorde brief in die Hermanus Times gepoog om ’n stokkie voor die opvoering te steek, tevergeefs.

Die sukses van die fees as geheel het ongetwyfeld agter die skerms afgespeel: om by nul te begin, was geen grap nie en die reël van nie net al die vertonings nie, maar ook die prestige Vrouedagete, verblyf vir die spelers, kaartjieverkope, die oprigting van klanktoerusting en wat nie nog als nie, het ontelbare ure van bloedsweet van nie net die komiteelede geverg nie, maar ook ’n horde vrywilligers, waaronder al die personeellede van die Hermanus Times. Wat die praktiese sy van sake betref, was ’n gesoute Onrusser, Willie Smit, onmisbaar.

Skaars het die laaste gordyn gesak of die komitee kom reeds byeen om 2002 se fees te beplan. In die vooruitsig word gestel ’n omvattender kinderprogram, ’n plaaslike toneelstuk, Perlemoenstories, en hoe lyk die moontlikheid van ’n optrede deur die Kaapstadse simfonieorkes in die Onrus NG Kerksaal? Dié alleen sal R30 000 kos, maar Cas sê hy sal die Wes-Kaapse regering nader vir ’n borgskap. In Maart die volgende jaar kondig Cas aan dat premier Peter Marais R50 000 voorwaardelik beloof het, maar weens ’n seksskandaal ’n paar maande later bedank Marais, en daarmee verdwyn die potensiële R50 000. MTN onttrek ook as borg. “Ons finansies is haglik,” kondig Cas op 1 Junie aan; Niel waarsku dat kunstenaars gaan onttrek as hulle gedwing word om op Hermanus te speel vir minder as elders, terwyl Augusta Marshall sê Hawston is versplinter oor deelname aan die fees. Dae voor die fees moet begin, lyk sake darem rooskleuriger:
Insig borg weer die tent, ’n anonieme donateur skenk R40 000 en kaartjieverkope begin loop. Vir die
tweede jaar in ’n ry is die wa deur die drif getrek.

Die voorblad van die 2003-feesprogram kondig groot aan: 7-10 Augustus op Onrus en Hawston, wat die doelwit van die feeskomitee duidelik uitstippel: om Afrikaanse teater Hawston toe te neem, maar ook toneeltalent daar te ontgin. In dié verband sou die hulp van Anthony Wilson en Karin Daniels oor die jare onmisbaar wees, waaruit sterre soos Helen Swartz en Sherman Pharo weldra gebore sou word. 2003 was ook Onrus se eeufees, en heel gepas is die bekende egpaar van die buurdorp Vermont, Jan Rabie en Marjorie Wallace, deur die fees vereer met die toneelstuk Jan en Jorie onder regie van Juanita Swanepoel. Dit is geborg deur die Overstrand munisipaliteit, wie se nuwe ouditorium in die daaropvolgende jaar luisterryk ingewy is met die Kalfiefees-opening van Stories van die Overberg met Trix Pienaar en Sandra Kotzé en Tussen Hemel en Aarde van Charles Fourie. In 2005 het my toneelstuk Klein Saterdag gedebuteer, en behalwe vir die veteraan-akteur Gavin van den Berg is die rolverdeling uit die personeelkorps van die Hermanus Times saamgestel. Die maklikste rol daarin het ek vir myself uitgehou: dié van dorpsidioot.

Oor die jare het boekbekendstellings en boekvoorlesings deel van die feesprogram uitgemaak: daar was ballet, opera, koorsang, voordrag en die Baardskeerdersbos boere-orkes, asook immer gewilde kuier venues en gespreksessies waarin netelige ekonomiese en politieke kwessies aangepak is deur bekende openbare figure soos Carel Boshoff, Max du Preez, Theo Vorster, Pieter Mulder en Mosiuoa Lekota. Die hoofborge vang altyd die kollig, maar sonder die bydraes van wellewende plaaslike sakelui sou die fees nie jaar na jaar die mas bly opkom het nie. Groot dank is aan al dié verskuldig. Wat gehalte vermaak betref, staan die Kalfiefees nie terug vir groter feeste nie. Dieteenwoordigheid die afgelope twee dekades van haas elke groot naam in die teater- en vermaakbedryf is bewys daarvan. Dié name sluit nie net Afrikaanssprekendes in nie, want daar word jaarliks gepoog om ook ander taalgroepe te betrek.

Feeskomiteelede het gekom en gegaan, maar een staan uit soos ‘n paal bo water: Anna Spaarwater wat al vir die afgelope 18 jaar lid is. Wel gedaan!
Laaste maar miskien nie die minste nie, is die jaarlikse oorhandiging van ’n handgemaakte Kalfiefees
keramiekteël aan ’n Overbergse kunstenaar, skrywer of toneelspeler vir dié se bydrae tot die uitvoerende
kunste. Die teël pryk daarna permanent in die De Wetsaal.
Die eerste ontvanger was Uys Krige, die laaste Marlene van Niekerk en in hierdie en al die ander se deurlugtige spore volg die uwe, boonop in die Kalfiefees se 21ste of mondigwordingsjaar. Ek aanvaar dit met nederigheid en dankbaarheid.

MC Botha het as redakteur van die Hermanus Times en as feeskomiteelid die geboortepyne van die Kalfiefees meegemaak.