Suid-Afrika beleef moeilike tye – ekonomies sowel as polities. En hoewel sakelui meen dat ons pas uit ’n resessie gekom het, glo heelwat ekonome dat ons heelwaarskynlik ’n tweede resessiegolf sal moet uitry.
Op politieke vlak heers ook groot onsekerheid, en menige Suid-Afrikaner hou die regerende party fyn dop.
Midde-in dié moeilike situasie het mense nodig om te lag. Dit is ’n bewese feit dat slegs optimiste opstaan en seker maak dat dinge gebeur.
Een manier om positief en optimisties te raak, is om te lag – selfs sielkundiges doen doktorale verhandelinge oor die genesende invloed van lag. Wat ’n beter manier dan om seker te maak dat lesers kaartjies bekom vir die HermanusTimes Kalfiefees, van 5-9 Augustus, se reeks komedies wat vanjaar opgevoer gaan word.
Die komedies is:
Met die Holm gebore
Dit word gespeel deur die bekende Marion Holm, wat elke jaar vir ons ’n ander “Sussie”-storie gebring het. Om met die helm gebore te wees is een ding, maar om met die Holm gebore te wees, is nie net een ding nie. . . Dis nóg ’n ding en vier ander goed, saam met ’n stuk watsenaam en sewe uitroeptekens.
Oupa en Ouma raak romanties
Dié komedie met Johan en Lida Botha het ses vertonings by die KKNK gehad, en almal was uitverkoop.
Met meer as 70 vertonings landwyd is Oupa en Ouma nou reg vir die Kalfiefees.
Pille en brille
Dié stuk word deur Marga van Rooy-produksies na die fees gebring en is ’n heerlike klug oor senior burgers en senior oomblikke. Twee vriendinne wat verslaaf is aan 7de Laan en Noot vir noot, weet nie hoe hulle dit het wanneer ’n nuwe wewenaar by hul aftreeoord intrek nie. Wie moet vir wie lugtig raak, want die kompetisie vir aandag raak sterk.
Die laaste Afrikaanse superhero
Leon Kruger en Esther von Waltsleben is albei akteurs wat oor bonatuurlike komiese talente beskik. Kruger se vermoë om sy gesig te verwring is genoeg rede om die stuk te sien. Die laaste Afrikaanse superhero is ’n handleiding vir die moderne man met outydse waardes.
Bure oppie bank – deur Saartjie Botha
Dit word gespeel deur Neels van Jaarsveld (die eish!-man) en Zane Meas (Neville in 7de Laan). Die twak spat in hierdie komedie wanneer Toks Abrams (Meas) en Flip Botha (Neels) mekaar beetkry oor rugby, vroumense, skoonma’s, gereedskap en ’n stukkende kar se verkoop. Flip eet niks vir soetkoek op nie, behalwe Toks se raad oor hoe hy sy aanstaande verloofde moet benader. Voeg by ’n waterdigte plan oor hoe om jou kar te laat steel – en jy begryp waarom die gehore so skater. – Ronelle Terre’Blanche