Pure pamperlang! Dit is wat op die Evas wag wat die Kalfiefees/Overstrand se Vrouedagontbyt bywoon wat op Maandag 9 Augustus in die Sandbaaisaal gehou word.
Die tema is nie verniet Eva, klim uit jou Boks nie! Ons hoofspreker, Marius Cornelissen, is nie net `n kapelaan-generaal in die Weermag nie, maar ook `n persoonlikheidskenner wat die dames gaan kom leer hoe om uit daardie “bokse” te klim. Hermanuspietersfontein se sjarmante wynman Gerard Scholtz swaai die septer as seremoniemeester, terwyl die hartebreker-kabaretster Niël Rademan die dames op `n liedjie of twee gaan trakteer.
Verbeeldings kan vrye teuels gegee word om die tafels volgens die tema te dek en daar is pryse op die spel vir die mooiste, snaaksste of mees gepaste tafels. Vanjaar kan almal meedoen aan hierdie pret.
Benewens die Vroue van die Jaar-toekennings aan spesiale vroue van die Overstrand, is daar `n modeskou en ander verrassings om na uit te sien. Bekende verhoogpersoonlikheid Wilna Snyman gaan ook `n voorlesing doen uit Gerard Scholtz se aangrypende nuwe boek, Lig wankelend.
Read more...